Wanneer ’n kind ma word PDF Print E-mail

Artikel: Netanja van der Westhuizen - voelgoed.co.za

Daar waar sy op die rusbank sit, lyk sy pure tiener. En sy is een. Maar nie meer vir lank nie. Onder haar los homp is daar effense bult. Want sy word een van die dae ma, dan is haar jongmenslewe vir altyd verby. Hare, en baie ander meisies ook.

Sy moes eintlik saam met haar maats by die mall uitgehang het, en oor Justin Bieber se haarstyl gegiggel het. Maar Michelle* is swanger. En in plaas daarvan om met die nuutste modes te eksperimenteer, probeer sy haar lyf wat elke dag groter word, vir die wêreld wegsteek.

 

Haar rou hartseer slaan jou vol teen die bors wanneer jy haar by die Berg-en-Dal-swangerskapkrisissentrum in Pretoria ontmoet. Die verskrikte kyk in haar oë maak jou skaam dat jy ook soms saam met ander oordeel. “Die arme familie,” of “sy’t mos geweet wat sy doen ...” en al die ander slim dinge wat ons so maklik kwytraak. Want hierdie kind se “skande” bid jy nie jou ergste vyand toe nie. Michelle, en twee ander meisies by Berg-en-Dal is braaf genoeg om hulle stories met ons te deel.

 

“Sy geheim groei in my lyf”

Michelle sit regop, haar tekkies styf teen mekaar. Sy praat vinnig, maar sag oor haar swangerskap terwyl sy ’n sneesdoekie styf in die hand hou vir wanneer die trane keer op keer kom. Ek was skaam. En bang. Buiten dat die swangerskap my hele lewe omvergewerp het, moes ek nou ook nog vertel hoekom ...

Ek moes die klip wat ek vir so lank in my hart rondgedra het, oopkrap en vir almal wys. “Wie is die baba se pa?” wou my tannie weet toe ek haar vertel dat ek my maandstonde oorgeslaan het. Sy was wonderlik. Ek weet nie wat ek sonder haar sou doen nie. Sy’t my gehelp om ’n swangerskap toets te doen ...

dit kon net hý gewees het. Toe moes ek my ma vertel. “Ma,” moes ek vir haar sê. “Die baba se pa is jou man.” Al begin die lewe wat in my groei al wys, sukkel ek steeds om dit hardop te erken. My stiefpa het my verkrag. Daar. Ek het dit weer gesê. Dit het begin toe ek 12 jaar oud was, gewoonlik wanneer my ma nie by die huis was nie. Hoekom het ek stilgebly daaroor? Want ons was finansieel afhanklik van hom. Ek wou nie die oorsaak wees hoekom hulle uitmekaar gaan nie. Maar my ma het verstaan.

Sy’t gesê sy sal my nooit blameer nie en my altyd ondersteun. Dit het die aaklige situasie so effens meer draaglik gemaak. Daar was dae wanneer alles te veel geraak het. Dae wanneer ek ’n einde aan alles wou maak. Doodgaan het na so ’n lekker uitweg gelyk ...

Maar my ma het my aangemoedig om sterk te wees wanneer ek vir die wêreld wou wegkruip. So, wat gaan ek doen? wou almal weet. Ek ook. Daar is oor aborsie gepraat, dan sou ek kon teruggaan skool toe. Maar my ma was bekommerd oor die emosionele letsels wat dit sou laat. Sy het van Berg-en-Dal gehoor, en nou is ek hier. Ek het besluit aanneming is die beste. Dit sal vir my baie moeilik wees om die baba te hou. Ek kan nie. Om elke dag herinner te word aan wat met my gebeur het ...

Dis nie die baba se skuld nie, ek weet. Maar dit sal vir ons albei beter wees. My ma is toe van my stiefpa geskei. Daar lê ook ’n hofsaak voor want hy is in hegtenis geneem weens verkragting. Is ek kwaad vir hom? Wat sal dit help om hom te probeer seermaak? God sal die beste weet ...

Ek voltooi my skooljaar deur Berg-en-Dal aan die Hospitaalskool Pretoria. Ek wil graag eendag ’n mediese dokter word; om ander mense te help. Die belangrikste ding wat ek by Berg-en- Dal besef het, is dat dit nooit my bedoeling was om swanger te raak nie. Ek het niks hiervan beplan nie.

Nou probeer ek om te fokus op die mense wat vir my omgee, en nie op wat sommige mense van my dink nie. Wanneer ek teruggaan huis toe, sal ek die voorbeeld stel: dis nie die moeite werd om, soos ek, geheime te hou nie.

“Ek was ’n rebel”

In haar lang kakie-romp, wit T-hempie en plakkies lyk die 22-jarige Sandra* soos enige selfversekerde student. Sy glimlag maklik; hou haar emosies in toom. Dis wat jy leer om te doen wanneer jou lewe twee keer tot stilstand kom teen die tyd dat jy 21 is. “Kyk mooi na hom,” het ek vir oulaas gesê toe ek Michael* aan sy aanneemouers gee. Ek het iemand se wens waar gemaak. Weer. Hy was my tweede kind. Ek was 17 toe ek die eerste keer swanger geraak het. Dit was so ’n deurmekaartyd. Ek was rebels. Soekend. Hardkoppig.

Omdat ek self aangeneem is toe ek vyf was, wou ek my biologiese ouers ontmoet. Ek het my biologiese pa opgespoor. Soms het ek by hom gebly en dan weer by my aanneemouers. Dit was ’n deurmekaar tyd. En ek het in ’n stadium ’n kêrel gehad. Hy was al uit die prentjie toe ek agterkom dat my maandstonde wegbly.

Ek het my tannie vertel en sommer drie swangerskaptoetse gedoen! Die uitslag was elke keer ’n skok, maar ek was ook bly. Dit was mý baba! Al was my aanneemma kwaad vir my, het sy my ondersteun en gehelp om in Berg-en- Dal plek te kry. Ek was in twee geskeur. Moes ek die baba laat aanneem? Kon ek haar nie maar hou nie? Aborsie was nooit ’n opsie nie en ek het uiteindelik besluit op aanneming. Hoe kon ek op 17 na ’n baba kyk?

Ek het haar Natasha* genoem. Die aanneming was moeilik. Jou kop en hart praat nie saam nie. Om jou babatjie te laat gaan en jy’s nie eintlik reg daarvoor nie ...

Ek het uitgehak en moes net weg. Daarom het ek in Bloemfontein by my biologiese ma gaan bly. In Bloemfontein het ek rondgehang; hier en daar gewerk. Daar was geen grense nie. Ek het soms agtuur in die aand uitgegaan, drie-uur die volgende middag teruggekom en dan net gebad voordat ek weer uit is. My aanneemouers het my gesmeek om huis toe te kom. Tot my skok het ek uitgevind dat ek op 21 weer swanger was. Weer. En die keer was ek nie eers seker wie die pa was nie ...

Hoewel ek ’n vaste kêrel gehad het. Hy was aanvanklik baie opgewonde oor die babatjie. Ons sou ’n familie wees! Maar hy het al meer begin drink en ons het baklei. “Gaan vir ’n aborsie,” het hy eendag gesê. Dis toe dat ek my aanneemma bel om my te kom haal.

Ek is weer Berg-en-Dal toe. Dit was die moeite werd. Hier is liefde en sekuriteit. Michael is laas jaar gebore en aangeneem. Dit was die regte besluit – sy aanneemouers kan beter vir hom sorg. Ek het dié keer probeer om van die begin af vrede daarmee te maak...

Natasha is nou al vyf. Ek dink aan hulle, veral aan haar. Eendag sou ek hulle so graag wou ken. Die meeste mense soek iets om die gat in hulle te vul. Ek was op soek na sekuriteit en stabiliteit. Elke keer op die verkeerde plek. Maar hier het ek geleer om lief te wees vir myself en myself te respekteer. Almal maak foute. Ek moes deur twee swangerskappe gaan om te besef dat ek eerstens vir myself moet omgee. My droom is nou om my studies klaar te maak en uiteindelik ’n matrone te word. Al het ek die pad byster geraak, weet ek nou waaroor die lewe gaan.

“Dis mý kind”

Nadine* is een van daardie meisies met wie almal op skool vriende wil wees. Sy is modelmooi en slim.

’n Sestienjarige van wie mense gewoonlik sou sê: “Dit sal nooit met haar gebeur nie.” Maar Nadine weet te goed dat enige tiener kan swanger raak. Ek en my vriendinne het gespot dat ek swanger kon wees. Om seker te maak, het ek en die pa ’n swangerskaptoets gedoen. Daar was net een strepie ...

Maar ek het nie die instruksies behoorlik gelees nie. Na drie minute was daar twee! Ons het nog ’n toets gedoen. Selfs ’n bloedtoets by ’n kliniek, maar ek het al na die eerste toets geweet dis waar. Die kondoom het een keer geskeur en die morning after pill het seker nie gewerk nie. Al waaraan ek die heeltyd kon dink, was: Hoe sou ek my ouers sê?

Daardie aand kon ek nie eet nie. Ek kon nie leer vir die volgende dag se eksamen nie. My vriend – hy’s 19 en ons was twee jaar saam; hy was my eerste liefde – het al daardie dag begin praat oor ’n aborsie. Dit was ’n gemors. Ek het my ma na my kamer geroep. “Hoe lief is mamma vir my?” het ek gevra en in trane uitgebars. Sy was amper meer geskok omdat ek seksueel aktief was, as oor die swangerskap. Daarna moes ons my pa vertel ...

Ek het begin huil en myself in die badkamer toegesluit. Netnou verloor hy sy humeur. Ek het gehoor hoe hy my vriend se pa bel. Daar was argumente. Maar my ouers het reeds daardie aand vir my gesê hulle is lief vir my. Ongeag. Ek het gewéét hulle was kwaad en teleurgesteld; dat hulle groot drome vir my gehad het. Nou was ...is ek ’n verleentheid. Vir myself ook. Boonop is ek en my vriend later, gedurende die eksamentyd, uitmekaar. Gee my net ’n geweer, het ek begin gedink.

My ouers het uitgevind dat ek sulke dinge dink en my laat belowe dat ek dit nie sal doen nie. Hulle het my so deur alles gedra, daarom het ek dit nie gedoen nie. Dit sou hulle breek. Maar ek wil nie meer die horlosie terugdraai nie. My baba kom oor ’n paar maande en ek kan nie wag nie. Ons maak al ’n plekkie vir hom of haar in my kamer reg. My ouers gaan die baba versorg totdat ek klaar studeer het en self vir die baba kan sorg. Hierdie klein mensie is deel van die res van my lewe.

Ek is nou in graad 11 aan die Hospitaalskool Pretoria en gaan graad 12 ook daar klaar maak. My gemiddeld is in die negentigs, want ek is nou so gefokus. Ek wil gaan swot en ’n goeie werk kry vir my en my baba. Dis vir óns toekoms; ek dink nou soos ’n ma. Die babatjie was ’n geskenk – sonder hom of haar sou my paadjie nie so duidelik gewees het nie. Dit pla my nie dat ek nie meer ’n sosiale lewe het nie. Dis lekker om by die huis te bly saam met my ouers.

Ons het nie altyd so ’n goeie verhouding gehad nie. Hulle was baie streng en ek het kanse probeer vat. Miskien sou dinge anders gewees het as ek gedink het dat ek met hulle kon praat daaroor om die Pil te kry. Eendag gaan ek my kind die hele storie vertel. Sodat hy of sy nie dieselfde fout sal maak nie en baie suksesvol sal wees. Ek kry nou nog skaam, veral as ek my vriende se ouers sien. Dis moeilik en daar is altyd skinderstories, maar ek moet probeer sterk bly. Ek móét ’n sukses hiervan maak, sodat ek almal verkeerd kan bewys. F

Artikel: Netanja van der Westhuizen - voelgoed.co.za

*Name is verander om die identiteit van die meisies en kinders te beskerm.